Baanbreker

Meneer Hein het in Oktober sy sestigste verjaarsdag gevier. Behalwe vir ‘n pragtige verjaarsdaglied deur Thandi Mirali, die mooiste en lekkerste wortelkoek deur Sjefs Jenna en Eric, het ons as geskenk vir hom ‘n Woord gekoop in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal! Die woord is: Baanbreker! Dr Willem Botha, die voorsitter van die WAT, het op Mnr Hein se verjaarsdag vir hom kom vertel waarom die woord hom so mooi pas.

   “‘n Baanbreker is ‘n voorloper, wegbereider, pionier op ‘n bepaalde gebied, ‘n persoon wat die pad oopmaak vir ander om te volg.

Mense in die wynbedryf is bewus van Hein se baanbrekersrol om die Oosterse mark meer toeganklik te maak vir Suid-Afrikaanse wyn.  Hy is ook ‘n baanbreker op die gebied van Wyntoerisme: La Motte was een van die eerste wynplase wat nie net ‘n wynproe aanbied nie, maar ook ‘n ervaring in die skilderkuns, musiek en natuurbewaring. As bestuur ken julle sy baanbrekerswerk. Ek noem nog net Meridian Wine Merchants, een van ons suksesvolste wynverspreidingsmaatskappye en ook ‘n baanbreker in die SA konteks met ‘n baie vernuwende werksmodel.”

Daar is nog ‘n paar woorde wat Meneer Hein goed beskryf – kliek hier.

  • Geleentheidskepper
  • Visionêr - Kom van die Latyn video, videre, visi, visum = om te sien. As jy visionêr is, het jy die vermoë om vooruit te sien, om te antisipeer. Dit stel jou in staat om eerste met ‘n idee te wees, om ‘n baanbreker te wees.
  • Werkskepper                                                                   
  • Ekstrovert - ex “buite” en vertere “draai”
  • Grensverskuiwer                                                            
  • Pret
  • Ikoon - Iemand wat besonders is, wat nagevolg kan word, iemand wat deur baie mense bewonder word: uit Grieks eikson= beeld. RKK beeld van Heilige wat aanbid word.
  • Gesonde Humorsin
  • Legende - Die woord legende gaan terug na die Latyn legere “om te lees”. ‘n Legende is dus iemand oor wie jy lees en sal lees, waaroor verhale vertel word, maar anders as die ander legende wat oorvertel word, is dit gewoonlik waar.
  • Waagmoedig
  • Ratwissellaar                                                                    
  • Sportief
  • Vasberade
  • Wonderwerker                                                               
  • Innoverend  - Latyn novus =”nuut”
  • Wynfundi / fundi
    • Geleerde persoon, akademikus.
    • Kenner of kundige van 'n bepaalde onderwerp of op 'n bepaalde terrein.
    • Ndebele umfundi "dissipel, iemand wat jou leer" uit funda "leer, lees" en fundisa "onderrig, opvoed" Dieselfde woorde kom ook in Xhosa en Zulu voor.  Nguni-taalfamilie.
  • Optimisties - Lat: bonus, melior, optimus
    Optimiste sien altyd die beste scenario, die blink kant, ‘n optimis soek redes hoekom ons iets KAN doen, nie redes hoekom ons NIE kan doen nie.
  • Voorloper
  • Energiek - Grieks ergon = werk
  • Strateeg - ‘n Strateeg is iemand wat weet hoe om homself of ‘n groep te posisioneer, hoe om probleme op te los, hoe om planne te maak, hoe om dit waaroor jy beskik ten beste aan te wend. Strateeg kom uit die Grieks strategein “om soos ‘n generaal op te tree” en strategein is saamgestel uit stratos “leër” en agein “om te lei”. Die verhaal van dr. KAREL BOS, Belgiese eienaar van BOSAL, ‘n multinasionale mpy wat bestuur word volgens die gevegstrategie van ‘n 15de eeuse generaal.
  • Goedhartig     
  • Planmaker                                                                         
  • Doelgerig
  • Nuutdenker                                                                      
  • Passievol
  • Plesier                                                                                 
  • Entoesias - ‘n Entoesias is iemand wat geesdriftig is, wat begeesterd is < Grieks enthousiazein “om deur ‘n god geïnspireer te wees” wat saamgestel is uit entheos “in besit geneem deur” en theos “’n god”.      
  • Fietser                                                                 
  • Altruïs - ‘n Altruïs is iemand wat andere se belange voor sy eie stel of wat goed is vir ander mense. Dit kom uit die Latyn alter wat “die ander” beteken. Jy is dus ingestel op ander mense, net mooi die teenoorgestelde van ‘n egoïs, wat net in hom- of haarself belangstel. Dit kom van die Latyn ego wat“ek” beteken. Die teoloë en sielkundiges is dit eens dat geluk van veral vier lewensreëls afhanklik is: Jy moet glo in iets groter as jyself / Jy moet ‘n altruïs wees, m.a.w. jy moet goed doen aan ander / Jy moet dankbaar wees / Jy moet oefening kry. 

Ten slotte wil ek graag twee woorde by hierdie lang lys byvoeg: Nederig en Gelowig.